DIE ARTIKEL 21 MAATSKAPPY SOOS
BEDRYF BINNE DIE KONTEKS VAN ‘N INWONERSORGANISASIE SOOS BY VOLTITELSKEMAS
EN SEKURITEITSDORPE
In
die geval van sekere voltitelskemas en veiligheidsdorpe word ‘n
Artikel 21 Maatskappy gestig. Die Wet noem dit “‘n maatskappy
beperk deur garansie” wat beteken dat die aanspreeklikheid van sy
lede beperk word en bepaal dat verenigings sonder ‘n winsoogmerk
só geregistreer kan word. Hierdie soort maatskappy het nie ‘n
aandele-kapitaal nie, en het lede, nie aandeelhouers nie.
WAT IS ‘N ARTIKEL 21 MAATSKAPPY?
In
een sin kan ons sê: Die Maatskappywet maak voorsiening vir die inlywing
van ‘n vereniging sonder winsmotief, as ‘n maatskappy beperk
deur garansie, sodat die lede van die vereniging die beskerming en voordele
van die maatskappywet kan geniet.
•
Beperk deur garansie, beteken dat die aanspreeklikheid van lede beperk
is.
• Die Wet (Die Maatskappywet Wet 61 van 1973) skryf die hou van
algemende vergaderings, hoe daar met lede se geld gehandel moet word wat
betref die oudit van die boeke, ens. voor.
• Die Wet skryf ook deursigtigheid van die sake van die Maatskappy
voor soos dat die statute, finansiële state, lederegister, ens.,
by die geregistreerde kantoor van die maatskappy ter insae vir lede beskikbaar
moet wees.
• Redes vir ‘n Art 21 Mpy - Dis ‘n regspersoon wat in
eie naam sake doen. Dt het ewigdurende opvolging. Word deur die wet gereguleer.
Beskerm lede se belange. Gesamentlike bemagtiging en sekuriteit, ontwikkelingsprojekte,
gemeenskaplike beskerming van ‘n hoë lewensstandaard.
• Die mpy mag dienste lewer teen vergoeding en vergoeding betaal
vir dienste gelewer.
• Die mpy mag nooit sy fondse tussen lede verdeel, soos in die geval
van dividende nie, selfs al word dit ontbind, in welke geval die restant
van fondse aan ‘n soortgelyke organisasie geskenk moet word.
Die
klem by ‘n Artikel 21 maatskappy lê by sy doel, wat moet wees
om die belange van een of ander groep of gemeenskap te dien.. Die mpy
mag wins maak. Dit moet egter nie sy hoofdoelwit wees nie. Sy hoofdoelwit
moet volgens die Wet wees “om godsdiens, kuns, wetenskap, onderwys,
liefdadigheid, ontspanning, of ‘n ander kulturele of maatskaplike
bedrywigheid, of gemeenskaps- of groepsbelange te bevorder.”
STRUKTUUR
Die
lede van die maatskappy verkies jaarliks direkteure tydens die Algemene
Jaarvergadering, wat namens hulle die maatskappy bestuur.
Die
direkteure bestuur die maatskappy aan die hand van die Maatskappywet,
die Akte van Oprigting van die maatskappy, die statute van die maatskappy
en soms ook nog aan die hand van reëls, die ontwikkelings- riglyne,
die dorpstigtingsvoorwaardes en die ordonnansies en regulasies van die
munisipaliteit.
VERKIESING
VAN DIREKSIE
‘n
Baie belangrike vereiste waaraan ‘n direkteur moet voldoen is “common
sense”. Kundigheid kan ingebring word deur van konsultante gebruik
te maak, maar die direksie kry te doen met baie uitdagende probleme en
moet dit kan hanteer op ‘n verstandige, kreatiewe wyse.
Die
direksie moet die kultuur van die dorp beskerm en uitbou. Hulle is betrokke
by die bevordering van ‘n hoë lewensstandaard, esteties aangename
omgewing en sekuriteit. Hulle moet fasiliteite uitbou en ontwikkel.
Die
bestuur van die finansies, opstel van begrotings en vordering van heffings
vorm alles deel van die direksie se verantwoordelikhede en hulle sal heelwaarskynlik
‘n professionele aanstelling maak om daarmee behulpsaam te wees.
Afhangende
van die strukture, is die munisipaliteit in baie gevalle steeds betrokke
en verantwoordelik vir sekere dienste en funksies. Voorbeelde hiervan
is riool, vullis, water, elektrisiteit, brandbestryding, ens., asook die
toepas van regulasies en ordonnansies m.b.t. munisipale ordonansies oor
troeteldiere, geraas, besoedeling, ens. Die koördinering hiervan
met die maatskappy, is ‘n funksie van die direksie, alhoewel die
individuele eienaars, soos in ‘n gewone dorpsgebied, self met die
munisipaliteit oor hulle eie sake skakel.
Uiteindelik
is die direkteure verantwoordelik vir die al die pligte en verantwoordelikhede
aan hullr opgelê deur die Maatskappywet, Statute, ens. Baie dikwels
kry hulle geen vergoeding en is dit maar ‘n ondankbare taak.
FINANSIES
In
hierdie opset bestaan die behoefte aan finansies hoofsaaklik uit drie
komponente, nl. lopende uitgawes, reserwes en projekte. Veral die eerste
twee is grootliks ‘n gegewe, maar die insette van die lede is betrokke
by projekte – wat die grootte van die fondse daarvoor benodig sal
bepaal.
SUKSES VAN
DIE MAATSKAPPY
Die
sukses van die maatskappy is van kardinale belang vir lede. Die korrekte
inmekaar sit van die verskeie komponente vorm ‘n belangrike onderbou.
Die direksie is ‘n volgende komponent en die derde is die lede se
betrokkenheid en steun. Indien hierdie drie komponente reg van die begin
af goed funksioneer, kan dit net goed gaan met die maatskappy. Indien
dit nie van die begin af reg hanteer word nie, verval die hele saak in
anargie en chaos wat baie moeilik op ‘n latere stadium reggemaak
kan word.
Die
betrokkenheid van die lede moet verseker dat die regte direkteure verkies
word en dat hulle die maatskappy stuur volgens die mandaat wat deur die
lede gegee is.
|